Die polisie se nasionale misdaadintelligensie-eenheid ondersoek die moontlikheid dat ’n regse groep kinders ontvoer en op plase as soldate vir ’n beplande oorlog teen swart mense oplei.
Een persoon is reeds deur die polisie op ’n klag van menseroof gearresteer.
Supt. Thembi Nkwashu, nasionale polisiewoordvoerder, het gister gesê dat die polisie die bewerings ondersoek, maar bygevoeg dat die saak “hoogs sensitief is” en dat sy nie by magte is om met die media daaroor te praat nie.
Die nasionale polisie het ook die Silverton-polisiekantoor in Pretoria opdrag gegee om geen besonderhede aan die media bekend te maak nie. Dié polisiekantoor is by die ondersoek betrek.
Die kinders leer volgens ’n bron onder meer hoe om handgranate en bomme te maak en dit te plant.
Kinders van so jonk as 13 jaar en van so ver as Upington word glo reeds op ’n plaas in die Naboomspruit-omgewing gehou waar hulle as soldate opgelei word.
Inligting oor die beweerde organisasie het na vore gekom toe ’n 15-jarige seun van Silverton verlede Donderdag glo van sy ouerhuis ontvoer en na die plaas geneem is.
Hy het glo daar geleer hoe om ’n bom te maak en vuurwapens te gebruik.
Die seun se identiteit en dié van sy familie mag nie bekend gemaak word nie.
Die ingeligte het aan Beeld gesê: “Die seun se ontvoerders het hom gelok deur hom weermagklere te gee en te beloof dat hy ’n goeie soldaat kan wees.
“Sy ma het dieselfde Donderdag ’n klag van ontvoering by die Silverton-polisie ingedien. Die seun is Sondagaand (eergister) weer by sy ouerhuis afgelaai, waarna sy ontvoerders weggejaag het.
“Die polisie het die ontvoerders egter ingewag en toe hulle die seun aflaai, het die polisie hulle agternagesit.
“ ’n Verdagte is aangekeer en die polisie het beslag gelê op dokumente wat verband hou met dié beweerde opleiding van jong seuns.”
Die bron het gesê die kind en sy gesin gaan onder polisiebewaking geplaas word.
Die nasionale misdaadintelligensie-eenheid sou gister ’n tweede seun in Silverton wat glo al die afgelope vyf jaar betrokke is by die organisasie, ondervra.
Die bron het gesê wat skrikwekkend is, is dat die eerste kind in ’n verklaring aan die polisie kon verduidelik hoe om ’n bom te maak om hulle te oortuig dat hy die waarheid praat. Die polisie wou dit egter nie bevestig nie.
Beeld het dié seun se gesin gister besoek, maar die seun se ma het gesê hulle wil nie met die media praat nie.
Daar was wel toe polisiebeamptes by hul huis besig om ’n verklaring af te neem.