Necuno
Court Jester
- Joined
- Sep 27, 2005
- Messages
- 58,567
...at loss of words
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2435748,00.htmlSy het bo-op haar driejarige dogtertjie gaan lê om haar teen die rowerkoeëls te beskerm en is toe self vyf keer geskiet.
Mev. Erika Zeeman (28), vrou van ’n polisiebeampte, het eergisternag waarskynlik haar dogtertjie, Demi, se lewe só gered.
Mev. Zeeman is geskiet nadat haar man, insp. Piet Zeeman (48), vyf verdagtes gejaag het wat ’n motorhawe in Carolina, Mpumalanga, beroof het. Die gesin het toevallig op die rooftog afgekom.
Toe die skietery losbars, het mev. Zeeman na die agtersitplek oorgeleun en bo-op Demi gelê om haar te beskerm. Een van die rowers het na die motor geloop, sy pistool deur die oop motorruit gesteek en mev. Zeeman vyf keer in die rug geskiet.
Insp. Zeeman het gister vertel die gesin het omstreeks 20:30 Sondagaand by die Hercules-motorhawe stilgehou.
“Dit was vreemd toe ’n man aangestap kom en sê daar is nie brandstof nie en ek moet ry. Ek het vir hom gesê ek soek nie brandstof nie, maar sigarette.
“Ek het onraad vermoed toe ek sien die pompjoggie sit so half verstar eenkant.”
Die volgende oomblik het vyf mans uit die motorhawe se winkeltjie gestap, in ’n VW Jetta gespring en weggejaag.
Zeeman het die rowers met sy private motor agternagesit.
Die verkeerspolisie het ook die rowers begin jaag wat in die rigting van Badplaas gejaag het.
Sowat 5 km buite Carolina het die voertuig stilgehou.
“Ek en die verkeersmanne het agter hulle stilgehou,” het insp. Zeeman gesê. “Die rowers het uitgespring, die verkeersmanne oorrompel en toe met handwapens en ’n AK47 op my losgebrand.”
Hy het sy R5-aanvalgeweer uitgepluk en teruggeskiet. Een rower het agter die stuurwiel van die verkeersvoertuig ingespring.
Insp. Zeeman het hom raak geskiet. Dié man is hospitaal toe geneem, maar het daar beswyk.
Intussen het ’n ander rower mev. Zeeman deur die oop motorruit geskiet. Insp. Zeeman is deur ’n stuk skrapnel in die regter-groottoon getref. Hy het op die oorblywende vier rowers teruggeskiet wat laat spaander het.
Die polisie het een se lyk gisteroggend sowat 70 m daarvandaan in die veld gekry. ’n Pistool, ’n sak geld en selfoonkaarte is langs die lyk gekry.
Die ander drie is nog soek. Die polisie vermoed een van hulle kan ernstig gewond wees omdat daar volgens kapt. Manie van Zyl van die eenheid teen georganiseerde misdaad baie bloed in die Jetta was.
“Die gode was goed vir ons. Demi het ongedeerd van die skietery afgekom. En Erika leef,” het ’n steeds geskokte insp. Zeeman gister aan Beeld gesê.
Mev. Zeeman is in ’n stabiele toestand, maar het glo die gevoel in haar regterbeen verloor.