Dít sluit die verspreiding van rolprente en publikasies deur die internet, selfone en die pos in wat normaalweg wettig van ’n gelisensieerde perseel aan mense 18 jaar en ouer gebied mag word.
Mnr. Iyavar Chetty, senior beampte van die FPB, sê alle rolprente wat deur Suid-Afrikaanse burgers of voltydse inwoners versprei word, moet deur die FPB geklassifiseer word.
Dit sluit volgens hom selfs videomateriaal in wat deur ’n Suid-Afrikaner op ’n webwerf soos YouTube of sy/haar webjoernaal (blog) geplaas word.
Wat publikasies betref, moet dié wat X18- (seksueel eksplisiete materiaal) en XX-materiaal (onder meer kinderpornografie en bestialiteit) bevat, voor publikasie geklassifiseer word.
Ander publikasies (op die oomblik sluit dit koerante uit) word aan klassifisering onderwerp sodra ’n klagte ontvang word, sê Chetty.
X18-rolprente en -publikasies mag van ’n gelisensieerde perseel aan meerderjariges versprei word en XX-materiaal mag glad nie versprei word nie.
In die geval van internet-, selfoon- en posverspreiders mag nie X18- óf XX-materiaal versprei word nie omdat dié verspreiders nie gelisensieer kan word nie.
Chetty meen dié saak sal in die konstitusionele hof moet draai voordat die wet gewysig sal word om voorsiening te maak vir internet-, selfoon- en posverspreiding van X18-materiaal. “Die parlement wil seker maak minderjariges kry nie toegang tot volwasse materiaal nie.
“Net die verifiëring van ouderdom wat van aangesig tot aangesig plaasvind, sal dít waarborg,” meen hy.