Mila
Honorary Master
http://www.rapport.co.za/Nuus/Nuus/Suksesvolle-plaas-stort-ineen-na-wrede-moord-op-egpaar-20140524
Die plaas Graigmont, tuiste van Andrew en *Loryn Monakane (albei 39), staan nou leeg en verlate in die genadelose koue van die Vrystaatse winter.
Dié opkomende boere is *vroeër vandeesmaand in ’n gruwelnag op hul plaas tussen Dewetsdorp en Botshabelo (naby Thaba Nchu en die Lesotho-grens) aangeval en geskiet.
Andrew is op die toneel dood, maar Loryn het geveg om haar lewe in ’n Bloemfonteinse hospitaal nadat die inbrekers haar verkrag en in die gesig geskiet het.
Sy het verlede naweek, ’n dag nadat sy ontslaan is, in die plaashuis inmekaargesak en is só onder dieselfde dak as haar man dood.
Ismael Mafosi (35), Teboho Frans Khoantle (31) en Johannes Pitseng (32) van Botshabelo is weens die moorde in hegtenis geneem. Die Monakanes se plasma-TV, ’n pistool, DVD-speler en dubbelkajuitbakkie is by hulle gevind.
Die hofverrigtinge is tot 29 Mei uitgestel.
Familielede van die Monakanes het ná die aanval die huisware verwyder uit vrees dat dit geplunder kan word.
Al wat in die leë plaashuisie agtergebly het, is ’n honger babakatjie, bloedkolle teen die muur en ’n vergete briefie van hul 11-jarige dogter, Mami, wat lui:
“Dear Mama, I just want to say hello to you because I know I love you. Mama, I love you so much.”
Mami woon sedert die aanval by haar ouma in Botshabelo.
Volgens sers. Yanga Ngcukana, polisiewoordvoerder, was sy gelukkig nie die aand van die aanval tuis nie.
“Ek soek nou ander werk,” sê Josias Mololekwa, die Monakanes se beeswagter. “Ek kry nou niks meer geld nie.”
Dinge op dié eens suksesvolle plaas gaan nou vinnig agteruit.
Op die werf is twee plaasbrakke sonder kos en water aan *bome vasgeketting – waarskynlik gelos vir dood.
Nie eens Mololekwa weet wie nou na die diere moet omsien nie, want die getraumatiseerde familielede het die huis so vinnig ontruim dat hulle nie reëlings kon tref nie.
Die varkhokke staan dolleeg en nugter alleen weet waarheen die skape en die hoenders verdwyn het.
“Ek pas net die beeste op,” sê Mololekwa. “Ek gee hulle kos.”
Die Monakanes is deel van ’n groep swart boere wat ná grond*hervormingseise ’n plasie in die Dewetsdorp-distrik ontvang het.
Dié boere is besig om stelselmatig ’n sukses te maak met die geringe kapasiteit wat hulle tot hul beskikking het.
Johannes Lemphane, een van die Monakanes se buurmanne op die plaas Kilmanok, is ook een van dié boere.
“Ons doen groot sake hier, al is ons grond klein,” sê hy.
“Maar hierdie mense maak my skrik. Môre skiet hulle sommer vir my ook.
“Ek het Andrew goed geken.
“Die boere in dié omgewing is mos almal tjommies. Die wit boere is óók ons tjommies. As daar moeilikheid is, dan help hulle ons.”
“Andrew was ’n goeie man,” sê Willie Lombard, voorsitter van die boerevereniging op *Dewetsdorp.
“Hy was beslis ’n aanwins. Hy het deelgeneem aan al die boerebyeenkomste en vergaderings wat ons hier gereël het. Hy was baie betrokke.”