Hier is die artikel
Sentech se MyWireless-diens wat die publiek koordlose toegang tot die internet in sekere metropolitaanse gebiede gee, kom nie spoedbeloftes na wat die groep adverteer nie.
Dít was die bevinding van 'n groep van 12 tegniese kenners wat gister in Johannesburg rondgery het en Sentech se seine by agt torings getoets het. Die groep het verskillende MyWireless-produkte, wat strek van die 128 Kbps- tot 512 Kbps-diens, getoets.
Mnr. Roelf Diedericks, een van die tegniese kenners wat aan die toetsprojek deelgeneem het, sê die toets wys die algemene spoed beloop net tussen 30% en 40% van dít wat Sentech adverteer.
"Ons was naby die torings waar die sein op sy sterkste is. Ons toets kelder gewis Sentech se bewerings dat net 'n klein persentasie MyWireless-kliënte nie 'n optimale diens kry nie."
Diedericks sê die 128 Kpbs- en 256 Kbps-produkte het deurgaans dieselfde aflaaispoed getoon, hoewel die 512 Kbps-pakket soms die geadverteerde spoed behaal het. "Op die 128- en 256-pakkette het ons gemiddeld 4 Kbps tot 5 Kbps gekry, terwyl dit sowat 16 Kbps behoort te wees."
Die toets is uitgevoer deur sewe skootrekenaars wat gelyktydig lêers van bedieners in Suid-Afrika en die buiteland aflaai.
Sentech kon nie gisteraand vir kommentaar bereik word nie.
Dié ondersoek volg op 'n klagte van 'n ongelukkige MyWireless-gebruiker wat by die gesagsowerheid vir reklamestandaarde oor die inhoud van Sentech se advertensies ingedien is.
Sentech staan dié klagte teen.
Diedericks en Sentech het vroeër koppe gestamp toe Diedericks sy misnoeë met die MyWireless-diens deur twee webwerwe, www.mywirelesssucks.co.za en www.sentechsucks.co.za, uitgespreek het. Diedericks het egter die eienaarskap van dié webwerwe aan Sentech oorgedra nadat hy met regstappe gedreig is.
Sedertdien is nóg twee webwerwe wat kritiek op die diens uitspreek, geregistreer.
Dié webwerwe is onderskeidelik www.suckmywireless.co.za en www.f*cksentech.co.za. Nóg 'n webwerf, www.sentechhatesfreespeech.org.za is ook geregistreer om te protesteer teen die manier waarop Sentech die eerste twee webwerwe gesluit het.
Sentech het Vrydag in 'n verklaring die probleme met die diens as tandekry-probleme en deel van sy ontwikkelingsproses beskryf. Die groep het dié probleme vergelyk met die probleme wat MTN- en Vodacom-kliënte aan die begin van dié netwerke se kommersiële dienste ervaar het.
Sentech het egter erken dat hy sy internasionale vennote na Suid-Afrika ontbied het om aandag aan sekere MyWireless-kwessies te skenk.
Sentech sê hy is ook besig met 'n intensiewe opleidingsprogram vir sy inbelsentrumagente om die diensleweringsvlakke te verhoog.
He's a useless shaitte that sentech is...