Kurt in 46664-moles

Necuno

Court Jester
Joined
Sep 27, 2005
Messages
58,566
Reaction score
3,437
taal jong, dis alles in die taal :confused:

http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2348837,00.html


Die sanger Kurt Darren se planne om vir oudpres. Nelson Mandela in Afrikaans te sing tydens die konsert ter viering van sy 90ste verjaardag in Londen is gefnuik omdat die Britte nie gehou het van die woorde wat Darren vir Madiba geskryf het nie.

Dié toutrekkery tussen Darren en die Engelse organiseerders het so erg geword dat die Suid-Afrikaner dit sterk oorweeg het om hom aan die konsert te onttrek.

“Uiteindelik moes ek aanvaar dat die geleentheid groter is as ek,” het Darren, sanger van treffers soos Loslappie, Hemel op Tafelberg en Standing on the Edge, gister gesê.

“Ek kan suur wees hieroor, maar ek wil dit nie doen nie. Dis nie my styl nie.”

Die ongelukkigheid het gevolg op ’n voorstel van die konsert se produksie-leier, Jim Beach, dat Darren Afrikaanse woorde skryf vir ’n paar versies van Eddy Grant se Gimme Hope, Johanna.

Darren en Grant het dié anti-apart-heidstreffer wat in die laat 1980’s wêreldwyd gewild was, saam gesing op Vrydagaand se konsert.

Darren sê hy het toe vorendag gekom met ’n ode aan Mandela op die oorspronklike wysie met die woorde “Wel in die suide is hy Madiba, hy is die wêreld se bekendste man”.

Grant en Beach, bestuurder van wêreldberoemde groepe soos Queen, het egter daarop aangedring dat die woorde ’n direkte vertaling van die oorspronklike moet wees.

Toe Darren nie wou kopgee nie, is dié planne laat vaar.

Die Suid-Afrikaner sê dit was vir hom moeilik om Afrikaanse woorde te skryf vir reëls soos “a mother in black Soweto fears the killing of another son”.

“Ek dink dit is tyd om na die toekoms te kyk. Ons het almal foute begaan en ek gaan nie nou (oor die verlede) tob nie.

“Dis in elk geval nie in my aard om politikus te wees nie. Ek was nog nooit so nie,” sê Darren

Hy het uiteindelik besluit om die oorspronklike Engelse weergawe saam met Grant te sing.

Darren sê hy is aanvanklik genooi om een van sy eie liedjies – Standing on the Edge of Hemel op Tafelberg – in Londen te kom sing.

Gedurende die week het dié planne egter skipbreuk gely weens die druk van ’n internasionale televisieskedule.

“Ek is tog spyt dat ek nie in Afrikaans kon sing nie. Daar is baie tale (van die Hyde Park-verhoog af) gehoor en ek het gehoop dat Afrikaans een van hulle sou wees – nie as ’n politieke stelling nie, maar net om ons kultuur aan die wêreld te wys.”
 
Top
Sign up to the MyBroadband newsletter
X