Snelbusse kan meer as R300 m. uit sak jaag
THEUNS VAN DER WESTHUIZEN
20/05/2009 10:42:47 PM - (SA)
Kaapstad. - Sowat 115 busse van meer as R300 miljoen is nodig vir die eerste fase van die geïntegreerde snelvervoerstelsel (GSV) wat in die stad ontwikkel word.
Dié fase (Fase 1A) sluit in ’n snelbusdiens tussen die middestad en die Kaapstadse Internasionale Lughawe, asook ’n GSV-hoofroete en voederroetes wat die middestad en die Weskus-gebied tot by Atlantis en Mamre moet verbind.
Tenders vir die koop van die eerste busse sal na verwagting binne die afsienbare toekoms gevra word nadat die stadsraad Dinsdag goedkeuring van die nasionale regering gekry het om dit te doen.
Me. Kylie Hatton, mediabestuurder van die Kaapse stadsraad, het by navraag gesê die busse sal na raming R325 miljoen kos, maar dit kan eers bevestig word wanneer ’n tender aanvaar word.
Die busse sal verskillende lengtes hê – van 18 m lange gelede busse vir hoofroetes tot busse van 12 m en 8 m vir voederroetes. Alles sal afhang van die vraag na openbare vervoer op ’n bepaalde roete.
Gevra of daar genoeg busse voor die voltooiing van Fase 1A in Maart aanstaande jaar bestel en afgelewer kan word, het Hatton gesê: “Die plan is tans om nuwe busse te kry om die Wêreldbeker-verpligtinge van die raad na te kom.”
Die sokkertoernooi vind van 11 Junie tot 11 Julie aanstaande jaar plaas en Kaapstad moet ’n openbare vervoerdiens verskaf wat drie hoofterminusse sal be*dien. Die terminusse word by die lughawe, in die middestad en by die Groenpunt-stadion gebou.
Hatton het bygevoeg dat die raad gereelde samesprekings voer met bus- en taxi-operateurs wat deur die ontwikkeling van Fase 1A geraak word, onder meer om hul betrokkenheid as operateurs in die stelsel te bespreek.
Onderhandelings is juis nou aan die gang om vas te stel hoeveel busbestuurders in Fase 1A nodig sal wees.
Volgens die raad se berekeninge sal tussen 300 en 400 bestuurders nodig wees, en sal tussen 800 en 900 heeltydse werkgeleenthede vir sekerheidswagte, skoonmakers en kassiere geskep word.
Die opleiding van dié werknemers, busbestuurders ingesluit, sal deel wees van die proses om ’n onderneming te stig wat die GSV moet bedryf en van die tenders wat gevra sal word.
Teken in op Die Burger