Zille: PE 'is Cope se skuld'
Pretoria - Die ineenstorting van Cope is die rede waarom die ANC gewen het in Nelson Mandelabaai, het Helen Zille, leier van die DA, Donderdag gesê.
“As Cope kon bly by die uitslae (van die vorige verkiesing), sou ons maklik kon wen in Nelson Mandelabaai. Die rede waarom ons verloor het, is dat Cope ineengestort het,” het Zille by die Onafhanklike Verkiesingskommissie se uitslaesentrum in Pretoria gesê.
Cope het in die vorige verkiesing ongeveer 17 persent van die stemme in dié metropool gekry. Dié wegbreekparty kon in vandeesweek se verkiesing slegs 35 000 stemme – ongeveer vyf persent – wen.
Zille het die metropool vyf keer besoek tydens haar party se veldtogte voor Woensdag se verkiesing.
Buiten vir die nederlaag, het Zille gesê die DA het “ongelooflik goed” gevaar deur te groei van die 20 persent-grens af.
Sy het gesê haar party sal in die toekoms nóg meer stemme wen deur dieselfde benadering en entoesiasme te behou.
Die DA het wel daarin geslaag om een wyk in die metropool te wen – die een waar Zille Woensdag gekla het dat kiesers slegs een stembrief, pleks van twee, ontvang het.
Die metropool bestaan uit Despatch, Port Elizabeth en Uitenhage.
Volgens die OVK het die ANC 51,91%, die DA 40,24% en Cope 4,95% van die stemme gewen.