Telkom gaan sy “regverdige-diensbeleid” opdwing in die “gees daarvan om die internet-ervaring van al sy gebruikers te verbeter”, het die maatskappy aangekondig.
Gebruikers wat betaal vir onbeperkte (uncapped) breëband en wat breëband-“intensief” is, soos byvoorbeeld aanlyn-speletjies speel of na video’s kyk, kan dalk tot hul skok besef hul pakkette is nié onbeperk nie.
Volgens Telkom het hy nog altyd dié diensbeleid gehad, maar was hy tot dusver baie “toegeeflik” wat die opdwing daarvan betref.
“Die gevolg is dat ’n paar gebruikers ’n negatiewe impak op die netwerk en die aanlyn- ervaring van medegebruikers het,” lui ’n verklaring van Telkom.
’n Bron in Telkom sê dat “gewone gebruikers” nie sommer geraak sal word nie, maar dat sommige mense die stelsel manipuleer.
Dit is gebruikers wat samelopende sessies op ’n enkele lyn gebruik en binne ’n paar dae “teragrepe” aflaai, sê die bron.
Arnold van Huyssteen, Telkom se waarnemende produkhoof, sê om breëband van ’n hoë gehalte te lewer, raak al hoe moeiliker namate mense toenemend toepassings gebruik wat “breëband-intensief” is.
Die wedywering vir beskikbare netwerkvermoë groei en Telkom se kliënte raak toe*nemend bekommerd oor *“regverdigheid en gelyke diens”.
Telkom se breëbandnetwerk word deur al sy breëbandgebruikers gedeel. Netwerke het nie ’n onbeperkte vermoë nie en Telkom monitor die netwerk voortdurend en voeg vermoë by waar nodig.
“Ons sal optree wanneer sekere tendense raakgesien word wat dalk kon lei tot ’n swak ervaring vir die gemiddelde gebruiker op ons netwerk,” sê Van Huyssteen.
Volgens Telkom kan gebruikers hul gebruik op die netwerk dophou en wanneer die gebruik aangedui word as “gevaarlik hoog”, behou hy hom die reg voor om die rekening op te skort of sekere beperkings in te stel binne 24 uur van wanneer die gebruiker vir die eerste keer in kennis gestel is.
Gebruikers waarmee dit gebeur, sal eers aan die begin van die volgende maand weer volle toegang tot die netwerk hĂŞ, sĂŞ Telkom.