Nuwe tol-wetsontwerp goedgekeur
2012-08-03 12:06
Johannesburg – Die kabinet het ‘n nuwe wetsontwerp goedgekeur wat die regering sal toelaat om regstappe teen diegene wat die e-tolstelsel probeer vryspring, te neem, het ‘n koerant berig.
The Star berig die kabinet het die wysigingswet op vervoerwette en verwante aangeleenthede goedgekeur in afwagting op Gauteng se projek om hoofweë te verbeter, wat tydelik op ys geplaas is.
Motoriste wat die e-tolstelsel probeer ontduik, se fooie of boetes kan van hul salarisstrokies afgetrek word.
“Die wetsontwerp is noodsaaklik om die implementering van die elektroniese tolheffingstelsel in staat te stel,” het Jimmy Manyi, woordvoerder vir die regering, gesê.
Die SABC het intussen berig die Pretoriase hooggeregshof het 'n datum bepaal vir die hersiening van die regering se besluit om 'n e-tolstelsel op Gauteng se hoofpaaie in te stel.
Betoë oor die aansoek sal op die 15de Augustus aangehoor word terwyl die hersiening op 26 November sal plaasvind, het die openbare uitsaaier berig.