LazyLion
King of de Jungle
Plaasaanval: Mini-‘oorlog’ toe Delmas-boer aanvallers verjaag
https://www.facebook.com/MaroelaMed...59694.184136881626009/901497746556582/?type=1
http://maroelamedia.co.za/blog/nuus...ni-oorlog-toe-delmas-boer-aanvallers-verjaag/



https://www.facebook.com/MaroelaMed...59694.184136881626009/901497746556582/?type=1
http://maroelamedia.co.za/blog/nuus...ni-oorlog-toe-delmas-boer-aanvallers-verjaag/
ʼn Bekende boer van Delmas in Mpumalanga, wat al sewe keer die afgelope paar jaar op sy plaas aangeval is, het Sondag helder oordag hom en sy vrou teen agt aanvallers verdedig.
Wykie Berg (65) en sy vrou Hannetjie (63), familie van die akteur en aanbieder Hykie Berg, is ongedeerd ná die aanval. Hulle treur egter oor drie geliefde honde wat kort voor die aanval vergiftig is.
Berg het Woensdag aan Maroela Media gesê hy en sy vrou het Sondagoggend oor die radio na ʼn kerkdiens sit en luister toe hy die honde hoor blaf. “Ek het aanvanklik gedink hulle blaf vir die kalkoene, so ek het eers gewag vir die kerkdiens om klaar te maak voor ek gaan ondersoek instel het,” het hy gesê.
Berg het sy 9mm-pistool saam geneem en toe hy buite voor die kamervenster kom, het hy een van die honde se karkasse gesien en dadelik onraad vermoed.
“Ek is terug in die huis in en het vir my vrou gesê, ‘vandag is hier groot moeilikheid’. Ek het my vuurwapen gereed gemaak. Ná die sewe vorige aanvalle is ons huis baie beveilig, en ʼn mens kan slegs toegang verkry deur die kombuisdeur. Ek het by die kombuisdeur gaan staan en op die ysterdeur geklap en gemaak of ek my honde en plaasdiere roep. Toe ek die deur oopstoot, toe breek die oorlog uit.”
Een van die aanvallers vlug.
Een van die aanvallers vlug.
Berg het gesê agt verdagtes het op hom losgebrand, en hy het in die aanvallers se rigting teruggeskiet totdat sy magasyn met agt patrone leeg was.
“Hulle het omtrent 16 skote na my geskiet voor hulle weggehardloop het. Dit het gelyk of een van hulle gewond was, want hy het moeilik weggehardloop,” het hy verduidelik.
Berg het hom en sy vrou in hul huis beveilig en hulp ontbied. Die polisie en boere van die omgewing was kort daarna op die toneel en het die gebied gefynkam, maar kon nie die aanvallers opspoor nie.
Berg het sy troeteldiere, Missie, Ounooi en Wagter, as liefdevolle honde beskryf. “Die aanval was nie vir my so erg soos toe ek hulle moes gaan begrawe het nie,” het hy gesê. “Hulle is met ʼn vreeslike gif vergiftig. Ons weet nie presies wat dit is nie, maar dit is nie Temic wat in die meeste hondevergiftigings gebruik word nie.” Hy het gesê die honde was binne ʼn minuut dood nadat hulle die gif ingekry het.
Lorraine Claasen, kriminoloog en navorser by AfriForum, het aan Maroela Media gesê honde word veral in kleinhoewe-gebiede vergiftig omdat dit maklik vir die verdagtes is om toegang tot die honde te kry om hulle te vergiftig.
“Gif word in stukkies kos oor die muur of draad gegooi om die bedreiging wat honde bied te elimineer,” het Claasen gesê. “Dit dui ook daarop dat die eiendomme dopgehou word vir dae of weke voor ʼn aanval.”
Sy het gesê dié metode word gebruik om dit so maklik as moontlik vir aanvallers te maak om misdade te pleeg.
Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.


