Unfortunately I have it only in Afrikaans from Beeld:
http://www.beeld.com/nuus/2014-06-17-lur-se-skok-plan-vir-skole
Sommige stedelike skole in Gauteng moet met ’n townshipskool saamsmelt vir “beter integrasie tussen skole” en om gevolglik ’n nie-rassige omgewing te skep.
Dit is die strewe van Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, wat reeds ’n tegniese span aangestel het om te kyk hoe ’n omgewing van “sosiale kohesie” geskep kan word.
Lesufi het aan Beeld gesê hy wil die moontlikheid ondersoek om so ’n stelsel – ’n eerste in die land – bekend te stel. Hy sou ook wou hê dat so ’n gesament*like skool met een skoolhoof en een beheerliggaam funksioneer.
“Ek het ’n tegniese span aangestel wat binne ses maande terugvoering aan my sal gee.
“Op grond van hul terugvoering sal die konsep dan vir openbare deelname oopgestel word en ons sal dan besluit op die pad vorentoe.
“My doel is dit: Ek wil hê ons moet ’n nie-rassige atmosfeer skep. Ek hou nie van die huidige toedrag van sake nie. Dis die enigste manier waarop ons ontslae gaan raak van die stereo*tipes in ons samelewing en ons kinders nader aan mekaar gaan bring.
“Die huidige skoolstelsel in die provinsie is oud en moet verander word. Ons lewe nog verby mekaar.
“Ons is dit aan die kinders van 1976 verskuldig om sáám skool te gaan,” het Lesufi gesê.
Hy weet daar sal dalk teenkanting wees, maar het benadruk dat “leerlinge moet begin om mekaar te leer ken”.
“Dit is ’n langtermyndoelwit, maar dit is waarom dit ondersoek word.”
Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het gesê by die eerste oogopslag dink hy nie dit sal werk nie.
Hy meen ’n beter plan sal wees om twee skole in ’n vennootskap met mekaar te laat funksioneer.
“Maar jy kan nie twee skole wat relatief ver van mekaar is met een beheerliggaam en een skoolhoof laat funksioneer nie.
“Dit sal beter wees om ’n vennootskap tussen twee skole te skep waar ’n goed funksionerende skool en ’n swak funksionerende skool saam met mekaar kan werk.
“Die hele filosofie van onderwys is dat die gemeenskap self verantwoordelikheid vir hul skool moet aanvaar.
“Dis waarom die meeste lede van ’n beheerliggaam ouers moet wees – ouers wie se aanspraak dit self moet wees om verantwoordelikheid te aanvaar.
“Nou sit jy met twee kampusse waarvan die gemeenskappe ver van mekaar is en in kultuur en waardes radikaal van mekaar kan verskil.
“Op die een of ander manier gaan die een skade ly en die ander een voorkeur kry.”
Dit klink vir hom na ’n “ideologies gedrewe” voorstel.
Ted Townsend, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, het gesê dit is al elders ter wêreld beproef, maar het misluk.
Hoewel die unie ’n voorstel of proses sal ondersteun wat daarop gemik is om nasiebou en die gehalte van die onderwysstelsel te bevorder, sal so ’n proses in die verlede moes gewys het dat dit doeltreffend is.
http://www.beeld.com/nuus/2014-06-17-lur-se-skok-plan-vir-skole