Absa, die Curriebeker-borg, het dit gister onomwonde gestel dat dié bank nie ’n kwotastelsel in rugby ondersteun nie.
’n Storm het rondom Suid-Afrika se grootste bank losgebars ná berigte Vrydag dat mnr. Oregan Hoskins, president van die Suid-Afrikaanse Rugby*unie (Saru), Maandag aan rugbyunies geskryf het Absa sou sy “kommer oor hul gebrek aan transformasie” uitgespreek het.
AfriForum het toe feitlik onmiddellik ’n veldtog teen Absa van stapel gestuur.
Dié “Stop Absa Kwotas”-veldtog het eergistermiddag begin. Binne 24 uur het dit daartoe gelei dat talle Absa-rekeninghouers gedreig het om hul rekeninge te sluit.
Gister het dié burgerregte-organisasie gesê die veldtog is van stapel gestuur omdat die bank nie “onmiddellik gereageer het” op die bewering dat hy kwotas voorstaan nie. Teen gister het die veldtog meer as 12 000 ketting-SMS’e behels. Meer as 9 000 mense het ’n petisie onderteken en die Facebook-groep het teen laatmiddag bykans 1 300 lede gehad.
Maar mnr. Louis von Zeuner, Absa se adjunk- uitvoerende hoof, het gister aan Rapport gesê Absa het nog nooit voorgeskryf dat ’n kwotastelsel gevolg moet word nie.
“Ons het nog nooit gesê ’n span moet ’n sekere aantal spelers van kleur insluit nie. Ons standpunt is: Kom ons maak seker dat ons die transformasie-momentum behou en gee spelers wat die potensiaal toon die kans om te ontwikkel en hul talent ten toon te stel.”
Mnr. Kallie Kriel van AfriForum het gister erken Von Zeuner het hom reeds Vrydagmiddag uit New York gebel en gevra om vroeg dié week te vergader.
“Ek dink dit is die feit dat Absa nie dadelik opgetree het om dit te ontken nie,” het Kriel gesê oor hoekom hulle slegs ure nadat die berigte verskyn het die veldtog begin het. Hy gee toe dat Absa ’n billike geleentheid moet kry om op die bewerings te reageer.
Hy het ook erken dat AfriForum nog geen poging aangewend het om met Hoskins oor sy bewerings in die e-pos te gesels nie.
“As Absa sê die media verstaan verkeerd, dan is dit Hoskins wat die verkeerde boodskap uitgestuur het. Ons is ontsteld oor wat Hoskins gesê het. As Absa sê hulle het nie dít gesê wat Hoskins geskryf het nie, sal ons die ding (veldtog) los,” sê Kriel.
“Dan ***us ons op Hoskins – op wat sy agenda is en hoekom.”
Pogings om teen druktyd kommentaar by Hoskins te kry was onsuksesvol. Hy het per SMS laat weet hy is by die “Britse hoë kommissaris”.
Von Zeuner sê: “Die ironie is dat ek met Kriel saamstem dat ons nie ’n span met kwotas moet hê nie. Spelers moet op meriete speel.
“Ons sewes-, o.19- en o.21-spanne wys goeie diversiteit. Die spelers moet ook deurgebring word na Curriebeker-vlak. Dís die voedingsbron vir die Springbokke.”
Absa borg al 25 jaar die Curriebeker-reeks teen sowat R40 miljoen per jaar. Dié borgskap strek nog tot in 2013. Die bank is tans in onderhandelings met Saru om die Springbokke se truiborg te word en dít kan soveel as R60?miljoen per jaar oor vyf jaar beloop.
“Absa het ook nooit gedreig om sy borgskap te onttrek nie,” sê Von Zeuner. “Ons wil ook die Springbokke borg. Ons borgskappe is vir alle Suid-Afrikaners en ons wil hê almal moet die sport geniet.
“Skares word getrek deur goeie spel, goeie kompetisie, goeie talent en die feit dat mense hul helde in aksie sien. Kyk watter vinnige opgang het Elton Jantjies gemaak toe hy die geleentheid gekry het om in die senior liga te speel; so ook Dewald Potgieter en Juan de Jong,” sê Von Zeuner.
E-nuus het die naweek berig daar was slegs 16 swart spelers onder die spelers in Curriebeker-spangroepe wat die naweek gespeel het.