blunomore
Honorary Master
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Kaapstad-se-naam-moet-verander-20120624
KAAPSTAD. – “Plek waar die reënwolke vergader”, oftewel //Hui !Gaeb kan die Moederstad se *nuwe naam wees as ’n plaaslike Khoisan-groep sy sin kry.
Dié groep gaan vandeesweek, met die geldelike steun van Nando’s, sy eerste advertensiebord oor die hernoem van Kaapstad op die grasperk voor die Kasteel oprig.
Tania Kleinhans, sekretaris-generaal van die Institute for the Restoration of the Aborigines of SA, het gesê: “Dit is die oorspronklike naam van Kaapstad.
Ons gaan die bord Maandag of Dinsdag oprig by die Kasteel omdat dit die eerste formele vorm van kolonialisme was.
“Dit is ’n proses van hernoem en hervorming. Die regerings (die huidige en vorige een) is skuldig aan die menseslagting van ons mense.
Ons het bywoners in ons eie land geword en dit is tyd dat ons erkenning kry,” het sy gesê.
“Die Khoisan se tsoenami sal onstuitbaar wees.
“Ons hoof, Dawid Kruiper, is oorlede en die regering het amptelik niks gedoen nie. Ons het nie ’n vlag gehad wat vir ons halfstok gehang het nie,” het Kleinhans gesê.
Hulle beplan om nóg van die borde van 3m x 2,8m langs die snelweë soos ’n mens die stad binnery, asook in die stadskom, op te rig. Die geld hiervoor is deur Nando’s gegee.
Kleinhans het gesê dat die instituut nie toestemming gekry het om die borde op te sit nie.
Brett Herron, voorsitter van die stadsraad se benamingskomitee, het gesê hulle het nog nie so ’n naamvoorstel gekry nie.
“Ek vra die instituut om die stad regstreeks te kontak.”