kiepie
Executive Member
Virginia Keppler
“Twee tweelinge in 11 jaar is nou genoeg.”
Só het mnr. Hein Ernst en sy vrou, Lorna, gister gesê nadat hulle die trotse ouers van tweelingseuns geword het.
“Nou draai ek brieke aan,” het mnr. Ernst laggend gesê.
Sean en Ethan is eergister in die Unitas-hospitaal in Centurion gebore. Hulle is 11 jaar ná die Ernst se eerste tweeling, Xander en Bianca, gebore.
Sean is om 15:22 gebore en het 2,63 kg geweeg.
Ethan is twee minute later gebore en het 2,61 kg geweeg.
“Die twee is ook nie identies nie. Sean lyk soos my kant van die familie en Ethan soos my vrou se kant van die familie,” het mnr. Ernst gesê.
Ma en seuns is al drie gesond en behoort môre uit die hospitaal ontslaan te word.
“Dit was glad nie ’n beplande swangerskap nie en toe ons boonop hoor dit is weer ’n tweeling, was ons verstom. My skoonma (mev. Katrien Ernst) kon nie glo toe ons vir haar sê ons verwag ’n tweeling nie.
“Dit was ’n maand nadat haar man, Martin, oorlede is. Sy het só gehuil van blydskap,” het mev. Ernst gesê.
Haar man sê hul eerste tweeling was net so ’n groot verrassing.
Volgens hom loop tweelinge in sy vrou se familie. Haar oumagrootjie het ’n identiese tweelingsuster gehad.
Mnr. Ernst het gesê met hul eerste tweeling was dinge vir hulle baie moeilik. “Maar dit was al die pad plesierig.
“Ons het nou bietjie meer ervaring, bietjie geroes want dit is 11 jaar later, maar ons sal weer maklik in die game kom. Ek het klaar die ander tweeling se skofte uitgewerk om hulle in die aand wakker te maak wanneer hulle moet help bottel gee,” het hy laggend gesê.
“Bianca doen die doeke en ek sal bottel gee,” het Xander vinnig bygevoeg.
Hy het almal ook mooi laat verstaan dat hy die oudste van die vier kinders is.
Mev. Ernst het gesê haar skoonma kom haar gelukkig help wanneer sy uit die hospitaal ontslaan word.
“Ek kan ook nog nie kla nie, want die babas was tot nou toe nog net soet,” het sy gesê.
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2124934,00.html
Ja ja dis Afrikaans en als. Maar nie als dag dat jou "family in die paper" is nie.